Posted by: beertjie | Junie 16, 2008

Om jou geboorteland te verlaat

New Zealand MapEk weet deur hierdie post te plaas gaan daar baie reaksies wees, beide negatief en positief.  Dit is iets wat my baie na aan die hart lê. 

Om jou geboorteland te verlaat is en was nog nooit maklik nie.  Iemand wat nog nie deur hierdie proses is nie sal nooit weet waaroor dit gaan nie.  Dit was nog vir ons as familie die moeilikste besluit wat ons tot nog moes neem. 

Voordat ek my hart hieroor uitpraat wil ek net sê ons is nooit spyt dat ons hierdie besluit geneem het nie.  Ek plaas hierdie post, nie omdat ek mense daaroor wil aanvat nie, maar omdat ons baie gekritiseer was en nog steeds gekritiseer word oor die besluit wat ons geneem het.

Nou ja, hier is my storie.

Ons het seker so 5 jaar gelede al begin dink om Suid Afrika te verlaat, hierdie was nie ‘n besluit wat sommer oornag gebeur het nie.  Ons het eerste daaraan gedink om Suid Afrika te verlaat vir Europa, ek het familie wat reeds daar was en het baie inligting van hulle gekry.  Ons het alle moontlikhede ondersoek, ons moes gaan waar my man ‘n werk sou kry.  Ons het uiteindelik besluit op Ierland, niks het ons op daardie stadium gedruk om die land te verlaat nie.  Ons het ‘n 5 jaar plan gehad en dit was om uit Suid Afrika te wees voordat daardie 5 jaar verby was.  Na vele ondersoeke en navrae het ons besluit, Ierland hier kom ons, ons was so te sê op die punt om dit met almal te deel toe word ons genooi vir ‘n braai by ‘n vriendin wat toe net teruggekom het na 2 jaar in New Zealand. 

Daardie aand het ons vir hulle vertel dat ons oorweeg om Ierland toe te gaan en toe begin hulle te gesels oor hul tyd in New Zealand.  Die hele aand kon hulle nie uitgepraat raak oor die pragtige land, sy mense, kultuur en natuurskoon nie.  Ons het baie vrae gevra, uit nuuskierigheid omdat ons toe reeds ons besluit geneem het om SA te verlaat.  Later die aand toe sê Jacques vir hulle, julle praat net van al die “nice” dinge van NZ en wou weet was is die “bad” of negatiewe kant van NZ.  DIe “couple” antwoord basies gelyk, die weer en die verkeer.  Wel daar het ons besluit om bietjie navorsing te doen oor NZ, ons het nie eers voorheen daaraan gedink dat NZ dalk vir ons ‘n toekoms kan bied nie. 

Wel toe het Jacques se werk begin.  Hy het aan forums behoort, navorsing gedoen, honderde boeke uitgeneem oor NZ.  Navorsing gedoen oor werksgeleenthede vir hom, die kultuur, die land, die verskillende stede.  Ek het baie vrae gevra en hy moes almal beantwoord.  Ek wou weet, is dit koud, hoe goed is die skole, is die verkeer werklik erg.  Is dit so mooi soos Rachel en Fanie beskryf het.  Hy het “maps” geprint van New Zealand, waar die Suid Eiland en Noord Eiland is (ek was nog nooit goed met Aardrykskunde nie).  Waar ons dalk kan gaan woon.  Ek het letterlik honderde vrae gevra en hy het baie geduldig alles beantwoord.  Wel na al die navorsing het ons besluit, New Zealand is die land vir ons. 

Nogtans was ons nie haastig om die land te verlaat nie, nog nie regtig die finale besluit geneem nie, net dat New Zealand die land sal wees waarna ons sal gaan indien ons Suid Afrika wil verlaat.  Wel op 16 Desember 2006 het ons toe die finale besluit geneem. 

Net so bietjie agtergrond oor waarom ons op daardie stadium uiteindelik die finale besluit geneem het.

Ons was vir amper 4 jaar gesê dat ons nooit nog ‘n kind sal kan hê nie.  EK was by dokters, spesialiste en ginekeloê wat almal dieselfde nuus gehad het, sorry dis onmoontlik, die enigste uitweg was die inplanting.  Wel ons het toe die besluit aanvaar.  Ons was dankbaar dat ons een pragtige dogtertjie het en sal aanvaar dat dit die Here se Wil was om net een kind te hê.  Wel Oktober 2006 sê ek vir my man, ek wil nog net een ginekeloog probeer en dit sal die laaste keer wees wat ek sal probeer uitvind of ons ooit nog ‘n kind sal hê. 

Toe ek daardie Woensdag by die ginekeloog instap en hom die hele geskiedenis vertel toe vra hy vir my “wat doen jy Vrydagoggend”.  Ek vra hoekom, hy sê “ek sien jou in die teater Vrydag sodat ons kan probeer om dit vir jou moontlik te maak om nog ‘n kind te hê”.  Hy het verduidelik dat die operasie lewensgevaarlik is en as dinge skeefloop is die kans groot dat ek my lewe in gevaar stel en/of nooit weer ‘n kind sal kan hê nie.  Ek wou bitter graag nog ‘n ou kindtjie hê en het geweet my man voel ook so.  Wel om ‘n lang storie kort te maak, Vrydag vir die operasie gegaan met die wete dat die kans op swangerskap in elk geval net 1% is.  Wel die operasie is gedoen en ek is pilletjies gegee om stiptelik te drink en te kyk wat gebeur. 

Wel ons kry toe ‘n uitnodiging vir ‘n 21ste verjaardag (Desember) in Oos Londen en besluit om te gaan want dit is ons huweliksherding die 16de Desember en ons kry sommer gratis verblyf in ‘n vakansiehuis.  Die Maandag oppad terug Port Elizabeth toe, voel ek bietjie siek en swangerskap is die laaste waaraan ek dink, want ek het toe al klaar aanvaar dat die 1% sukses nie in my guns getel het nie.  By die huis aangekom besluit ek om gou ‘n draai by die dokter te gooi en iets te kry vir die verkoue en naarheid.  Die dokter doen al haar toetse en sê ek het bietjie verkoue en sy vra toe vir my terwyl sy gou ‘n voorskrif uitskryf vir die verkoue of ek allergies is vir iets en of ek enige medikasie gebruik.  Toe onthou ek van die pilletjies wat die ginekeloog gegee het om stiptelik te drink en toe tref dit my, wow ek mag dalk swanger wees.  Ek sê toe vir die dokter van die pilletjies en sy sê “kom ons doen gou ‘n urinetoets” voor ek vir jou die voorskrif gee.  Ek piepie toe vinnig in die ou botteltjie en toe voel daardie toetsie se uitslae soos ure.  Ek hou die dokter dop en sien die smile word al groter, toe weet ek.  Wel sy sê dis positief maar om seker te maak doen sy ‘n bloedtoets. 

By die huis gekom en wou nog nie vir manlief inlig nie want ek wil hom nie vals hoop gee nie.  Dokter het belowe sy druk daardie bloeduitslae en sal my die volgende dag laat weet.  Dit was die langste dag in my lewe.  Die volgende dag kry ek die uitslae en ons is swanger.  Na meer as 4 jaar se toetse en toetse en toetse.  Die 1% was toe in my guns, die Liewe Heer het besluit die tyd is reg om vir ons nog ‘n babatjie te gee.  Daardie dag toe ek my man vertel toe sê hy, hier is ons teken dat die tyd reg is om die land te verlaat.  Ons het nog niemand vertel van ons besluit nie, eers nadat Jacques bedank het, het ons die nuus met die familie, vriende en kollegas gedeel. 

Wel ons het positiewe en negatiewe reaksies gehad.  Dinge soos julle is verraaiers, hoekom wil julle die land verlaat, daar het mos niks met julle gebeur nie.  Hoekom moet daar eers iets met jou of jou gesin gebeur voordat jy die land verlaat.  Daar was verskeie redes hoekom ons SA verlaat het.  Twee van die grootstes was dat my man nie meer bevordering sou kry in die Lugmag nie a.g.v. regstellende aksie en tweedens was a.g.v. “crime”.  Hierna het alles so vinnig gebeur, paspoorte, geboortesertifikate, “police clearance”, noem maar op.  Ons het besluit ons moet vlieg voordat ek te ver in my swangerskap is en nie meer kan vlieg nie.  Ons het nog nie ‘n datum gehad nie, net geweet dit moet voor einde Mei 2007 wees.  Ons moes wag vir ons huis se geld voordat ons vliegkaartjies kan bespreek, want wie het nou R35 000 wat sommer rondlê.  Maart 2007 word ons geld uitbetaal en toe kon ons eers vliegkaartjies koop.  Uiteindelik het ons ‘n datum, die 1ste Mei sal ons vlieg. 

Dokter het aanbeveel a.g.v. die swangerskap om nie die lang Dubai roete te vlieg nie, en die direkte vlug via Sydney is ook te lank.  Die enigste opsie is via Singapore na New Zealand.  Wel toe bespreek ons via Singapore en besluit sommer om 3 dae daar te spandeer om bietjie te sien hoe lyk die land en ook a.g.v. die swangerskap.  Sommer ‘n goeie verskoning om Singapore te kan besoek. Johannesburg Airport

Nadat ons die vliegkaartjies bespreek het, het alles so vinnig gebeur.  Toe ons ons oê uitveë is dit die 1ste Mei 2007 en ons is op die lughawe oppad NZ toe.  Toe ons op daardie lughawe staan het ons nog getwyfel, doen ons die regte ding, hoe gaan ons kind aanpas (op daardie stadium 4jaar oud).  Ons gaan die dinge mis wat vir ons bekend is.  Nou gaan ons na ‘n nuwe land, was nog nooit daar nie, net foto’s gesien.  Nie geweet wat op ons wag nie.  Dis vir ons die onbekende.

Auckland Airport

Ons het alles opgepak en in ‘n container gegooi en al ons ander bates verkoop, huis en kar.  Ons het geweet daar sal nie ‘n kans wees om terug te kan gaan SA toe nie.  Laat ons nou eerlik wees, waar kry ‘n wit persoon nog in SA ‘n goeie werk.  Ons het geweet dit was nie vir ons ‘n opsie nie.  Ons moes dit net maak in New Zealand.  Indien dinge nie vir ons hier sou uitwerk nie, het ons nog Dubai as ‘n opsie gehad.  Ons het klaar kontakte daar gehad en werksgeleenthede.

 Almal dink om jou geboorteland te verlaat is maklik, verkoop jou goed, klim op ‘n vliegtuig en siedaar.  Laat ek uit ondervinding vertel, dis nie maklik nie, en almal wat hierdeur is sal dit beaam.  Die mense is maklik om te oordeel en beledigings uit te deel.  Mense het gesê ons is lafaards, inteendeel ons was “brave”.  Ons het ‘n kans gevat.  Ons het niks en niemand gehad in New Zealand nie, die familie wat agterbly het nog vir mekaar.  Hulle kan in hul kar klim en vir mekaar gaan kuier.  Dit is nie vir ons beskore nie.  Ons het dit geweet maar dit maak dit nie maklik nie.  As jy sê jy verlang SA toe, word daar gesê, dis julle eie skuld, julle het die keuse gemaak.  Ons weet dit, maar hoekom as jy uit PE trek na ‘n ander dorp word dit nie vir daardie persone gesê nie.  Hulle is dan ook mos lafaards, want hulle het hul geboortestad  verlaat.  Dis net die afstand wat verskil. 

Dit is nie maklik om weer van voor af te begin nie.  Jy moet weer kar koop, huis koop.  Alles weer begin opbou.  Die meeste sê dit neem gewoonlik 2 jaar voordat jy begin tuis voel.  Vir ons was dit anders.  Dit het van dag een af gevoel of New Zealand vir ons bedoel is.  Ons is so tuis hier. Geraldine

Geraldine is op haar gelukkigste.  Sy kan buite speel, fietsry en met haar skateboard ry sonder om bang en bedreig te voel.  Die mense is vriendelik.  Jy weet wie jou bure is.  Daar is nie veiligheidshekke en “burglar bars” op die vensters nie.  Die meeste mense hier weet nie eers waar hul huis sleutels is nie, want hulle sluit nie hul deure nie.  Ons sluit gewoonlik, maar vergeet ook baie ons deure oop.  Gaan doen partykeer shopping en vergeet om die kar se deure te sluit.  As ek sien hoe gelukkig my kind is, besef ek, ons het die regte besluit gemaak. 

Daar was moeilike tye.  Jacques het 5 maande gevat om werk te kry, nie omdat die mense hom nie wil hê nie, maar omdat hy nie ‘n werkpermit gehad het nie. 

Adelai, our little Kiwi

Ek was 6 maande swanger toe ons hier in New Zealand aankom.  Daar was ‘n baba oppad en daar is nog nie werk nie.  Gelukkig het ons hiervoor voorsiening gemaak en het genoeg geld gehad om te oorleef.  My suster is oorlede 4 dae voor my dogtertjie se geboorte.  Dit was ‘n moeilike tyd, maar gelukkig het ek ‘n wonderlike man wat kon troos en wat geduldig is.  Deur al hierdie tye het ons huwelik en verhouding net nog sterker geword.  Ons ondersteun mekaar, ons is lief vir mekaar en vir ons kinders en dis al wat tel.

Ons het soveel goeie vriende gemaak.  Nuwe vriende, want dit was moeilik om hulle agter te laat in SA.  Ons is ook gelukkig dat ons vriende van Port Elizabeth ook 3 maande na ons hier aangekom het. 

Nadat ek met verskeie van die immigrante hier in NZ gepraat het oor hul ondervindings het ek tot die volgende gevolgtrekking gekom. 

My persoonlike opinie is dat persone wat immigrante (en ek praat nie net van ons nie maar alle immigrante) verkwalik en lafaards noem, is

Persone wat nooit die opsie sal hê om die land te kan verlaat nie.  Hetsy dit is omdat hulle nie geld het nie, nie ‘n geleerdheid het of ‘n “skill / trade” het nie            

Dis persone wat ook nie bereid is om die bekende agter te laat nie.                                                                  

Dis persone wat bang is om daardie stap te neem,                                                                                            

Dis persone wat in luuksheid leef en weet hulle sal baie van dit moet opoffer en van voor af moet begin.   

Dis persone wat reeds hul huis klaar betaal het en nie weer van voor af wil begin nie.                                    

Dis persone wat nie bereid is om hul familie agter te laat nie.                                                                      

Dis persone wat bang is dat hulle dit nie gaan maak aan die ander kant nie. 

Dit kos duisende en ek bedoel duisende rand om te immigreer en daar is baie persone wat dit net nie het nie.  Gee vir hulle die geld en opsie om die land te kan verlaat en hulle is op die eerste vliegtuig om Suid Afrika te verlaat.

Ons is dankbaar dat ons die geleentheid en geld gehad het om Suid Afrika te verlaat.   Ons het nog nooit Suid Afrika gekritiseer nie, ons is dankbaar vir dit wat SA ons gebied het, maar het ‘n besluit geneem wat vir ons as gesin ‘n beter toekoms bied. 

New Zealand het sy foute en ons is die eerstes wat dit sal erken, maar ons is gelukkig hier en geensins spyt oor ons besluit nie.  Ons het die besluit geneem omdat ons vir onsself en ons kinders ‘n beter toekoms wou gee. 

Geraldine and AdelaiHierdie twee is ons rede hoekom ons besluit het om te “gly” en nie te bly nie.  Hulle is ons Alpha en Omega.  Hulle is die rede hoekom ons “lafaards” was.  Na al die moeilike tye is ons nog steeds nie spyt nie. 

 

 

 

 

Viva Suid Afrika 

Old SA Flag

 

SA Flag  

Viva New Zealand

 NZ Flag                                                                                                           

                             

 

 

Advertisements

Responses

  1. Beertjie my ding ek salueer jou- jy kon dit nie beter uiteengesit het nie!!!!! Ek gee nie om om ‘n veraaier genoem te word nie, want ek weet hoekom en waarom ons die drastiese stap gemaak het en daarom is ek nie een dag spyt nie. Ek dink inteendeel het ons meer guts as anders wat ons het alles opgegee vir die onbekende.

  2. Beertjie, baie goed uiteengesit. Ek dink dat daar baie meer mense al uit die land sou wees (ouderdom toegelaat) as hulle die geld gehad het!

    NSBTW, jou kleingoed is pragtig!

  3. Hallo daar hoop dit gaan goed my naam is Riouna en my man se naam is Leslie ons vlieg Desember en ek doen dit vir my kinders ons het baie daar oor gedink en ons word ook regtig sleg gese maar dit is maar hulle probleem ek hoop ek kan julle ontmoet in new zealand ek het n dogter van 16 en dogter van 7 seun van 3 jou kinders is pragtig sterkte die Martin gesin

  4. Hi Riouna, ja jy sal nog baie slegte kommentaar kry maar dis gewoonlik van mense (soos ek in by blog gesê het) wat nie die guts het om dit te doen nie. Immigrasie is nie vir sissies nie. Indien jy enige inligting nodig het, laat weet dis sal lekker wees om in kontak te bly. Laat weet net. Groete en sterkte vir julle en al die reelings. As jy enige iets wil weet soos wie om te gebruik om jul meubels te bring ens. skree net.

  5. hi daar ek het jou e-mail adres gekry ek sal die naweek vir jou mail stuur ek weet dit het lank gevat maar is nou weer aan die gang my komputer is nou aan die gang en ek het sommer baie vrae o ja en ons tyd is om die draai ek sien so baie daar na uit ek gaan jou mail ek hoop dit gaan goed met jou kinders praat weer Riouna Martin


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: